Oupa Jakkals is nie sommer enige jakkals nie. Hy’s slim, skelm, en altyd een sprong voor die boer – wel, meestal. Eendag, het Oupa Jakkals besluit “Mmmh ‘n eierontbyt sal nou lekker wees.” Maar met sy eerste tree in die hoenderhok het die boer hom op heter daad betrap. “Jou skelm jakkals! Kom terug hier!” het die boer geskree, en die honde het agterna geblaf.


Oupa Jakkals het geweet dis nou of nooit. Hy het oor heinings gespring en deur bossies geglip, maar terwyl hy so hardloop, het hy iets vreemds opgemerk: die veld was nie meer so mooi soos vroeër nie. Plastiek sakke het in die wind gewaai, die rivier het na olie geruik, en selfs die bome het moeg gelyk. “Wat gaan hier aan?” het Oupa Jakkals gevra. “As die wêreld só lyk, gaan daar binnekort nie meer plekke wees om weg te kruip nie!”


Hy het geweet dat hy iets moes doen – en vinnig. Maar hoe verander ’n jakkals die wêreld. “Ek kan nie net myself red nie, ek moet die wêreld red! En dit begin by kinders, want hulle is baie slimmer (en ouliker) as die grootmense.”


Hy het besluit om ’n nuwe missie aan te pak: om kinders te leer hoe om die Aarde en al sy diere te beskerm. Maar natuurlik moes hy dit op sy eie manier doen – met hope skelmstreke en grappies. Sy plan? Hy steek homself weg in aktiwiteitsboeke! “As kinders slim genoeg is om my te kry,” sê hy, “dan is hulle slim genoeg om die wêreld te red!”